Text Size

Geskiedenis

Geskiedenis Geskiedenis Geskiedenis

 

Gedurende 1927 word ondersoek ingestel of die plaas Oakdale geskik sou wees vir die stigting van 'n landbouskool. Reeds tevore is hierdie plaas deur die Departement van Landbou uitgesoek as 'n plek vir die stigting van 'n opleidingsplaas vir teruggekeerde soldate uit die Eerste Wêreldoorlog. Daar is nooit met genoemde inrigting begin nie. In 1927 word 200 merino-ooie, 8 muile, 4 jerseykoeie en "trekgoed" aangekoop.

Die skool begin in 1928 met ses seuns, van wie drie uit die Transvaal en drie uit die Vrystaat kom, en die enigste huisvesting was die historiese ou plaashuis en die gewone plaas-buitegeboue. In November 1930 word 'n aparte koshuis gebou met huisvesting vir 42 leerders en word die plaaswoning toe die skoolgebou.

In Desember 1941 is die ou huis se Victoriaanse syvleuels afgebreek en vervang deur die twee groot vleuels wat vandag nog bestaan - een 'n saal en die ander was klaskamers (nou die Fanie du Toit Sentrum).
In 1942 is die koshuis vergroot deur die aanbou van 'n losstaande slaaplokaal, en in die volgende jaar word twee personeelwonings op die plaas ook nog "geleen" om leerders te huisves, terwyl die koshuis verder vergroot word. In 1947 is daar weer aan die koshuis aangebou en kan 108 leerders gehuisves word. Die tweede koshuis vir senior-leerders is in 1957 gebou.