Text Size

Welkom by Hoër Landbouskool Oakdale

Die Hoër Landbouskool Oakdale is aan die voet van die Slapende Skoonheid in Riversdal geleë.

Slapende  Skoonheid

Om vandag jonk te wees is 'n wonderlike avontuur. Die wêreld vol geleenthede, avontuur en uitdagings is wat elke voornemende leerder op die Oakdale-kampus kan verwag.

Leerders kry hier die geleentheid om hulself in 'n stil, rustige plaasatmosfeer uit te leef, na aan die grond en hul Skepper groot te word en die gesonde, heilsame, vormende invloed van die natuur te ervaar.

Die skool huisves ongeveer 380 seuns, afkomstig uit die Oos-Kaap, Noord-Kaap, Wes-Kaap, Namibië, Gauteng, Vrystaat en Mpumalanga.

Die skool is landwyd bekend vir puik leerderprestasies op alle terreine en is bekend vir vormingsgeleenthede aan leerders gebied.

Oakdale bied aan ons leerders die ideale geleentheid om in unieke omstandighede en in omgewing afgesonder van steuringe van buite, n samelewing te skep waar hul in balans tussen akademie, sport, kultuur, landbou, verenigings en geestelike groei, aanpas en leer om hul ding te doen. Dit bied ons leerders die geleentheid om met groot selfvertroue en verantwoordelikheid die lewe daar buite aan te durf.

Die sterk karakter van dissipline, trots, tradisie en samehorigheid plaas Hoër Landbouskool Oakdale in 'n klas van sy eie.

Hier op Oakdale is elke leerder belangrik en is individuele aandag 'n prioriteit bydraend tot die persoonlike karakter van die skool.

Oakdale is nie 'n skool nie, dit is 'n leefwyse.