Oakdale Jongboerklub gee aan leerders die geleentheid om self te boer met die nuwe projek waar hulle op kleinskaal boer.

2024

Verskeie leerders uit elke graad het vanjaar aan die Oakdale-Jongboerklub deelgeneem. Die doel van die klub is om leerders aan praktiese landbou-onderrig bloot te stel. Die leerders het veertig ooie ontvang wat hulle moes bestuur. Die ooie is gesinkroniseer en laparoskopie is gedoen met uitstaande ramme van mnr. André de Jager. Die ooie is voorberei en gelam deur ‘n lamhokstelsel wat die leerders self bestuur het. Die leerders het ook weidings aangeplant, kalibrering van planters en kunsmisstrooiers gedoen, aan die maak van bale en kuilvoer deelgeneem en met groenteproduksie in die tuine gehelp. Grondmonsters is geneem en profielgate is gegrawe.

Die Junior Landbouvereniging, onder leiding van Gerco Scheepers, was op ‘n daaglikse basis aktief. Die kampe waarin die ooie loop is voorberei en draad is deur die lede gespan om te omhein. Mnr. Paul Pienaar, bestuurder van die Buiteplaas word bedank vir sy hulp en insette om die klub te stig en te onderhou.