Die Oakdale-Akkerfees is die een groot fondsinsamelingsprojek wat die skool jaarliks gedurende Mei / Junie aanbied. Hierdie fondsinsamelingsprojek is ‘n “ons-projek” wat ouers, oud-ouers, oudskoliere, leerders en die personeel insluit. Die Akerfeesnaweek sluit gewoonlik ‘n Akkerfeesdans op die Vrydagaand in asook ‘n groot sportdag op die Saterdag waartydens die rugbyspanne almal in aksie is. Hierdie naweek is ‘n Oakdale-gesinsnaweek en kom almal met Oakdale-verbintenis van wyd en syd om die fees by te woon.

Die Oakdale-Plaasmark.

Met tafels wat kreun onder vars produkte kon Plaasmark-gangers kies en keur. Produkte het gewissel van ‘n verskeidenheid sitrus en groente uit Gamtoosvallei se wêreld, appels en pere van Villiersdorp en vele meer. Dankie aan elke lojale Oakdale ondersteuner vir die skenking van vleis, tuisgebak, kaas, vars blomme en vele meer om vanjaar se Plaasmark ‘n uitsonderlike koop-ervaring te maak. Hierdie projek is slegs moontlik gemaak deur skenkings vanuit verskeie oorde. ‘n Reuse dankie ook aan JC’s Slagtery vir hulle hulp met die verwerking van die vleisafdeling. Oakdale salueer u daarvoor.


 

Algemeen

Bulle af van die veld

Elke Oakdale leerder wat sy blou baadjie met trots dra. Of jy nou ‘n kruiwa propvol produkte by die Plaasmark rondstoot, lekkers en koeldrank by die snoepie verkoop, die hek beman of jou deel op die pawiljoen doen  – julle maak ons trots!

Bulle op die veld

Soms wen jy, soms verloor jy. Dankie aan elke bul wat sy hart op die rugbyveld uitgespeel het. Mag die lewenslesse wat jul leer uit sport bydra tot die vorming van jongmanne met karakter. Hand en Hoof.

Koffiewinkel

Pragtige tafels, keurige gebak en vriendelike dames was vanjaar weereens deel van ons uiters gewilde koffiewinkel by die Akkerfees. Hartlike dank aan elke ouer wat ‘n bydrae tot hierdie sukses gelewer het asook elke ondersteuner wat vir ‘n wyle ‘n “koffie-oomblik” kom ervaar het. Aan Me. Nina van Eeden en haar Gr. 10-span, julle oortref julself. Dit was voorwaar ‘n lus vir die oog.

Dans

Tradisioneel eie aan die Akkerfees is die Akkerfeesdans. ‘n Pragtige versierde skousaal, vrolike musiek en ‘n heerlike steak-ete was deel van vanjaar se dans. Tesame met die dans was daar ook ‘n uiters suksesvolle veiling aangebied. Groot waardering word uitgespreek aan ieder en elk wat die dans ondersteun het, items vir die veiling geskenk het asook alle kopers tydens die veiling. Ons opregte dank aan Me. Helen Fouché en Denise Mare tesame met die Gr. 8 ouers wat verantwoordelik was vir die sukses van hierdie geleentheid.

Ondersteuners

‘n Riem onder die hart tydens vanjaar se Akkerfees was oud en jonk – so lojaal aan Oakdale. Baie dankie aan elke ondersteuner wat ons Klerewinkel ondersteun het, vir jul aanmoediging langs die rugbyveld asook ondersteuning van ons kosverkope. Dit word opreg waardeer.

 Ontbyt

Wat is nou lekkerder as ‘n heerlike boere-ontbyt vroegoggend in die Fanie du Toitsentrum.  Baie dankie aan Me. Phoebe Saayman en die Gr. 9 ouers wat reeds douvoordag voor hanekraai aan die skarrel was om ‘n heerlike ontbyt voor te berei. Daar is gesellig om die tafels gekuier en lekker gesmul.

Oudskoliere

Eenmaal ‘n Oakdaler – Altyd ‘n Oakdaler! Wat meer kan ons sê. Die blou bloed vloei in julle are. Dankie aan elke oudskolier wat Saterdag na Saterdag, wedstryd na wedstryd die Bulle kom ondersteun. Julle lojaliteit laat ons harte warm klop. ‘n Spesiale woord van dank aan elk van die nege reüniegroepe wat die afgelope naweek op die plaas kom kuier het.