Toutrek sal altyd ʼn sterk skakel in die sportketting wees. Uithou, aanhou, volhou – dit is wat ʼn Oakdale-toutrekker definieer. Ongeveer 80 leerders neem gedurende die somer aan toutrek deel.

Die skool se spanne in die verskillende gewigsafdelings wen jaarliks verskeie medaljes tydens die SA-toutrekkampioenskappe.

2025 Seisoen

Die 2025-toutrekseisoen was vir Hoër Landbouskool Oakdale weereens ’n jaar vol hoogtepunte, harde werk en uitstekende prestasies. ’n Gemiddeld van sestig leerders het vanjaar aan die sport deelgeneem en die skool het met sestien spanne aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deelgeneem.

Ons het aan die volgende kompetisies deelgeneem:

  • Mosselbaai Trekfees – Oktober 2024
  • Suurbraak vriendskaplike wedstryd – Februarie 2025
  • Eden-Overberg Interstreek Kampioenskappe (Swellendam) – Maart 2025
  • Wes-Kaap Kampioenskappe (Kaapstad) – Maart 2025
  • SA Junior Toutrekkampioenskappe (Mosselbaai) – Maart 2025

By hierdie byeenkomste het ons spanne telkens hul merk gemaak en Oakdale met trots verteenwoordig.

By die SA Junior Toutrekkampioenskappe het Oakdale weereens in die 560kg-afdeling goud gewen. Hiermee het die span gekwalifiseer om Suid-Afrika by die Wêreld Toutrekkampioenskappe vanaf 4 – 7 September 2025 in Nottingham, Engeland, te verteenwoordig. In Engeland het Oakdale se spanne eers aan die Ope Kampioenskappe deelgeneem, waar hulle die geleentheid gehad het om teen verskeie Engelse klubs hul kragte te meet.

Op 6 September 2025 het die A-span in die 560kg o. 19-afdeling aan die geslote Wêreld Toutrekkampioenskappe, vir die vierde agtereenvolgende jaar, deelgeneem en goud gewen. Hulle is ook as die Wêreldkampioen in hulle afdeling gekroon. ’n Besonderse prestasie wat die span en afrigter, mnr. Piet Lourens se deursettingsvermoë en toewyding onderstreep.

Op 7 September 2025 het die 600kg o. 23-afdeling, wat ook Oakdale-manne bevat, ’n silwermedalje verower. ’n Prestasie wat groot trots en respek verdien.

Die jaar was ’n bewys van die harde werk, dissipline en spanwerk wat Oakdale se toutrekkers kenmerk. Die sport het nie net die fisiese krag van die leerders ontwikkel nie, maar ook hul karakter, lojaliteit en trots in hul skool en land.

Toutrek 650kg A span

2024 Seisoen

Oakdale het vanjaar op die sukses van 2023 voortgebou, met die spanne wat aan verskeie kompetisies deelgeneem en ook gewen het. Gedurende Oktober 2023 het die spanne by die Mosselbaai Trekfees aan ‘n vriendskaplike byeenkoms deelgeneem en verskeie pryse, insluitend ‘n nuwe tou, gewen. Die 2024-seisoen het afgeskop met deelname aan kompetisies tydens die Heidelberg Skou en ook by Suurbraak, waar van die junior-lede vir die eerste keer met stewels getrek het. Gedurende Februarie het die manne aan die Eden Interstreek kampioenskappe in Oudtshoorn deelgeneem, gevolg deur die Wes-Kaap kampioenskappe gedurende Maart in Heidelberg. Hierdie wedstryde was goeie voorbereiding vir die SA Junior-kampioenskappe in Kimberley, waar die 560kg-span gewen het en vir die wêreldkampioenskappe in September 2024 in Manheim, Duitsland, gekwalifiseer het. Die 2022/2023-560kg Protea-span is gedurende April ook as die Suid-Afrikaanse “Skolespan van die Jaar” aangewys. Die span het aan die Senior Toutrek-kampioenskappe deelgeneem as voorbereiding vir die wêreldkampioenskappe, waar hulle weer puik presteer het en verskeie medaljes verower het.

Die 560kg-span het in September in Duitsland aan die Wêreld Toutrek Kampioenskappe deelgeneem. Ons span is vir die derde keer in ‘n ry as wêreldkampioene in die 560kg-afdeling gekroon.

Die span het teen die nasionale 560kg kampioene van Switserland, Engeland, Nederland, Duitsland en Chinese Taipei in ‘n rondomtalie ronde meegeding. In die halfeindronde het ons Duitsland met 2-0 geklop en sodoende na die finale kragmeting deurgedring.

Ons seuns moes uiteindelik vyf keer in die finaal teen Chinese Taipei (Taiwan) trek om as oorwinnaars uit die stryd te tree. Hierdie groep seuns en hulle afrigters, mnre. Piet Lourens en  Ivan van Zyl, het inderdaad iets reggekry wat min of moontlik geen toutrekspan in die verlede kon vermag het nie.

Die 6 reserwes het in gemengde spanne aan die Ope Wêreld kampioenskappe deelgeneem en al die seuns was deel van spanne wat medaljes verower het.

Toutrek Wêreldkampioenskap-Toergroep