Jeugskou word as sportsoort op Oakdale aangebied en gee aan leerders die geleentheid om hul liefde vir diere, asook hanteringsvaardighede op tasbare wyse uit te stal. Leerders neem vanaf graad 8 deel aan Jeugskoukompetisies waarna hulle kan kwalifiseer vir die Wes-Kaapkampioenskappe.

Oakdale-leerders skou in wol- en vleisskaap, suiwel- en vleisbeeste, boerbok asook Angoras. Oakdale is welbekend vir puik prestasies in Jeugskou.

2025

Oakdale het die voorreg om met Jeugskou, leerders aan verskeie diererasse voor te stel. Te midde van die dreigende gevare met Bek-en-Klouseer in Suid-Afrika, kon die leerders steeds aan streekskoue in die Wes-Kaap deelneem. Sekere skoue kon as gevolg van die regulasies met betrekking tot die 28 dae kwarantyn wat met diere tussen skoue, gehandhaaf moet word, nie bygewoon word nie.

Meer as veertig jeugskoumanne het steeds met oorgawe aan die verskillende klasse deelgeneem, naamlik vleis- en suiwelbees, vleis- en wolskaap, vesel- en vleisbok en junior afslaers. Oakdale se leerders het vanaf 3 – 5 April 2025 aan die WP-Kampioenskappe by Hoër Landbouskool Boland deelgeneem. Daar was 39 Oakdalers genooi en 27 het deelgeneem.

Vyftien leerders is vir die Nasionale Kampioenskappe wat vanaf 5 – 8 Oktober 2025 op Upington plaasvind, gekies. Ons bedank graag JC Veebemarking vir die vervoer van ons diere gedurende die jaar.

Jeugskou WP span

2024

2024 het weereens goed afgeskop en die skoue het met volle vaart begin. Leerders was opgewonde om weer voluit te kan skou en te kan meeding teen omliggende skole, asook om met verskillende boere se diere te kon skou in verskeie interras-kompetisies.

Ons het vanjaar, in die onderskeie klasse, naamlik vleisbees, suiwelbees, vleisskaap, wolskaap, Angorabok, Boerbok en junior afslaers met meer as veertig leerders begin.

Leerders moes aan drie streekskoue deelneem om te kan kwalifiseer, met die nodige punte, om aan die WP-kampioenskappe op Bredasdorp, deel te neem. Daar was baie Oakdale-leerders wat in die onderskeie klasse in die junior-, sowel as die seniorafdelings, gekwalifiseer het.

Tydens die Wes-Kaap kampioenskappe op 16, 17 en 18 Junie 2024, het Oakdale weereens gewys waartoe ons in staat is en het sewentien leerders gekwalifiseer om in die WP-span opgeneem te word. Oakdale het een of twee verteenwoordigers gehad in elke klas wat aangebied is, waarvan Oakdale die suiwelbees, vleisbees en vleisskaap-klasse, gedomineer het.

Die Nasionale Jeugskou-kampioenskappe is op 22 – 25 September 2024 in Middelburg, Mpumalanga aangebied. Die WP-span het ongelukkig onttrek van die Nasionale Jeugskou-kampioenskappe as gevolg van dieresiektes soos Bek-en-klouseer in die land. Ons bedank graag JC Veebemarking vir die vervoer van ons diere gedurende die jaar.

Jeugskou

Jeugskou WP span