2024
Die afgelope jaar het ons skool se betrokkenheid by die Voortrekkers tot groot sukses gelei. Tans is daar agt skoliere wat aktief aan die Voortrekkers deelneem. Hulle het die geleentheid gehad om aan verskeie opwindende kampe, soos die Gouritz Poortstap, die kommandokamp en gebiedskampe, deel te neem. Hierdie aktiwiteite het hulle nie net fisies uitgedaag nie, maar het ook bygedra tot die ontwikkeling van noodsaaklike lewensvaardighede. Deur hul deelname aan die Voortrekkers het hierdie leerlinge waardevolle kennis en vaardighede opgedoen wat hulle sal toerus om verantwoordelike landsburgers te word. Ons wil graag al die Voortrekker-leiers, -ouers en -ondersteuners wat al hierdie geleenthede vir ons seuns bied, bedank.
2023
Die Voortrekkers het weereens gedurende 2023 bewys dat hulle ʼn trotse gemeenskap is wat na kennis, kameraderie en die bevordering van Suid-Afrika se erfenis, streef. Die weeklikse byeenkomste by die Voortrekkerterrein bied die geleentheid om vaardighede aan te leer, vriendskappe te bou en om ‘n liefde vir ons land te vestig.
Hier volg ‘n lys van aktiwiteite waaraan ons seuns gedurende 2023 deelgeneem het:
Waartlemoenfees in Februarie
Dit is ‘n jaarlikse geleentheid wat vir baie plesier sorg.
Kommandokamp en nagmars te Oudebosch
Die Kommandokamp en nagmars te Oudebosch was ‘n ware toets van uithouvermoë, strategiese denke en samewerking. Ons seuns het hulself by hierdie geleentheid bewys en goeie karakter getoon.
Blackwattle uitroei in Garciapas
Die uitroei van indringerspesies, soos Blackwattle, is ʼn duidelike aanduiding van die Voortrekkers se toewyding aan die bewaring van die omgewing. Lede het saamgewerk om die skadelike invloed van hierdie plant op die ekosisteem in Garciapas, te verminder.
Presidentverkenner Afrondingskamp in Graaff-Reinet
Die Presidentverkenner-afrondingskamp in Graaff-Reinet was ‘n geleentheid vir lede om hul vaardighede en leierskapskapasiteit te toets. Hierdie jaar het drie Oakdalers, Janco Uys, Divan Janse van Rensburg en Niel Visser die kamp bygewoon en die Presidentsverkenners-eksamens suksesvol afgelê. Baie geluk aan die manne!
Spankampe en spesialisasie
Die spankampe, waar ‘n spesialisasie soos wapenhantering aangebied word, het die seuns toegelaat om hulself toe te rus met waardevolle vaardighede wat in die toekoms van belang sal wees.
Ons wil graag al die Voortrekker-leiers, -ouers en -ondersteuners bedank wat al hierdie geleenthede vir ons seuns bied.