2025

Die Natuurleweklub het gedurende 2025 ’n vol en opwindende jaar beleef met verskeie aktiwiteite wat nie slegs avontuur en genot gebring het nie, maar ook bygedra het tot die bewaring en waardering van ons natuurlike omgewing. Ons lede het die geleentheid gehad om unieke ervarings te beleef wat hulle verryk het, terwyl hulle ook praktiese bydraes tot die bewaring van die natuur gemaak het.

Een van die hoogtepunte van die jaar was die drie-dag-staptog in die Langeberg. Hierdie avontuur het ons deur digte natuurlike woude en pragtige fynbos-gebiede geneem en natuurlik, Sleeping Beauty ook. Bo en behalwe die wonderlike natuurskoon, het ons lede ook ’n waardevolle bydrae gelewer deur uitheemse dennebome te verwyder – 1 366 dennebome deur 12 manne!

’n Verdere hoogtepunt was die Blombos-staptog langs een van die mooiste kuslyne in die land. Hier het die lede die geleentheid gekry om nie net die natuur se skoonheid te bewonder nie, maar ook om tyd saam te spandeer aan ontspanningsaktiwiteite soos visvang. Hierdie uitstappie het ’n goeie balans tussen aktiewe deelname en ontspanning in die natuur gebring.

Die jaarlikse Oranjerivier-roei bly ongetwyfeld die hoogtepunt op ons aktiwiteitskalender. ‘n Groep van 34 lede het hierdie avontuur aangepak.

Ons klub kyk met groot opgewondenheid na die toekoms. ’n Projek wat reeds beplan word, is om te help met die oopkap en herstel van die res van die Sleeping Beauty Langeberg se wandelpaadjies. Die grootste uitdaging en avontuur wag egter in Desember 2026, met die beplande Amatola-wandelpad. Hierdie stap beloof om ons lede se uithouvermoë en liefde vir die natuur nog verder te verdiep.

Die klub is besig om jaarliks te groei. Die doel om ons seuns bloot te stel aan die natuur en ‘n liefde daarvoor te ontwikkel, is al hoe meer duidelik sigbaar. Dankie aan al die lede en ondersteuners wat bygedra het om hierdie jaar só suksesvol te maak. Ons sien uit na nog groter hoogtes en avonture in 2026.

2024

Die Natuurleweklub het vanjaar weer ‘n positiewe impak op van ons skool se leerders gehad, ten spyte van uitdagings. Ongelukkig moes die Cederberg-staptoer gekanselleer word weens vloede en skade aan paaie in die gebied, wat ‘n groot teleurstelling was. Nietemin het die gewilde Oranjerivier- roei steeds plaasgevind en soos altyd was dit ‘n hoogtepunt vir baie van ons seuns. Ons is opgewonde om in die volgende jaar weer verskeie natuuruitstappies aan te bied en leerders die kans te gee om die wonderlike buitelewe te ervaar.