Tekkies skree, Bulle kreun, rakette klap, sweet loop en ʼn klein swart balletjie laat jou goed les opsê! Oakdale beskik oor twee goedtoegeruste muurbalbane gerieflik langs die koshuis geleë. Jaarliks neem Oakdale met verskeie spanne aan die onderskeie ligas in die SWD deel.
2024 Seisoen
Teen einde Januarie 2024 was die graad 8-muurbalproewe afgehandel en baie nuwe talent was geïdentifiseer. Op 26 en 27 Januarie 2024 is die SWD- proewe afgehandel. Oakdale het 23 – 25 Februarie 2024 aan die York High Festival gaan deelneem waar Oakdale ook as die wenners van die toernooi weggestap het. Hoërskool Outeniqua, York High school en Paul Roos Gimnasium het ook aan die toernooi deelgeneem.
Gedurende 8 tot 10 Maart 2024 was die spelers op ‘n muurbaltoer na Kaapstad. Dit was ‘n baie suksesvolle toer en die spelers het goeie ervaring opgedoen. Skole waarteen meegeding was, was onder andere Parel Vallei, Paul Roos en Strand.
Estiaan van Zyl (o. 19A) en Luan van Zyl (o. 15A) het gedurende die April-vakansie aan die SA Plattelandse-toernooi in Bloemfontein gaan deelneem. Estiaan van Zyl is ook gedurende die toernooi vir die SA Plattelandse o. 19A-span gekies, wat aan die IPT-toernooi gaan deelneem het. Luan Van Zyl het halfkleure verwerf.
Twee spelers het gedurende die wintervakansie aan die IPT deelgeneem:
- 16A Eden Provinsiale-span : Anrieg Small
- 19A SA Plattelandse-span : Estiaan Van Zyl
Beide hierdie spelers het volkleure vir hul pragtige prestasie verwerf.
Die spelers het ook gedurende die derde en vierde kwartaal wedstryde op Oakdale teen onder andere Paarl Gimnasium en Hoërskool Outeniqua gespeel. Oakdale het ook per geleentheid teen Oudtshoorn Gimnasium gaan deelneem.
Mnr. Jonathan Abrahams het die muurbalspelers afgerig.
2023 Seisoen
Die muurbal het onder leiding van me. Ché-Lee Naudé baie ontwikkel. Einde Januarie is die graad 8-proewe afgehandel en nuwe talent is geïdentifiseer. Op 4 en 11 Februarie 2023 is die SWD- proewe afgehandel. Oakdale het ook vir die eerste keer ‘n muurbal-toernooi vanaf 24 tot 26 Februarie 2023, aangebied. Skole wat hieraan deelgeneem het was Oakdale, Hoërskool Outeniqua, York Hoërskool en Paul Roos Gimnasium.
Gedurende die naweek van 17 tot 21 Maart 2023 het Oakdale ook ‘n muurbaltoer na Kaapstad, onderneem. Dit was ‘n baie suksesvolle toer en die spelers het goeie ervaring opgedoen.
Sedert die begin van kwartaal 2 het mnr. André Otto as muurbal-organiseerder, oorgeneem.
Vyf spelers het gedurende die wintervakansie aan die SA Platteland-toernooi deelgeneem:
- 16 : Daniël du Preez en Danté Lategan
- 19A : Neil Visser
- 19B : Zandré Lategan en Cornel Rautenbach
Al hierdie spelers het ook ‘n toekenning van volkleure vir hul deelname ontvang. Gedurende kwartaal 3 is nuwe ranglyste uitgesorteer. Oakdale gaan voortaan ‘n senior top 10 (o. 19) en ‘n junior top 10 (o. 15) ranglys hê. Daar gaan gepoog word dat die juniors meer gereeld ook aan wedstryde saam met die seniors kan deelneem.
Dinsdae en Donderdae sal hierdie top 10 leerders professionele afrigting ontvang. Daar is ook reeds vriendskaplike wedstryde teen Hoërskool Outeniqua gedurende hierdie kwartaal gespeel. Ons gaan poog om in die toekoms meer spelers betrokke te kry en sterker juniorspanne saam te stel.
2022 Seisoen
Ons het die jaar afgeskop met proewe by die skool, om Oakdale se ranglys te bepaal. Dit was vir ons lekker om ook die groot groep graad 8’s te verwelkom. Oakdale-muurbal bestaan uit 36 spelers wat deur die jaar deelgeneem het, met mnr. Jonathan Abrahamse as buite-afrigter.
Op 11 en 12 Maart 2022 het ons die voorreg gehad om die top 9 seuns op ‘n toer te vat, wat plekke soos Hermanus en Vishoek insluit, waar ons teen verskeie spanne wedstryde gespeel het.
Ses leerders het na afloop van die SWD-proewe na die SA-Plattelandse toernooi, wat in Bloemfontein plaasgevind het, deurgegaan. Die spelers was:
- 14 – Dante Lategan en Sebastian Visser
- 16 – Daniël du Preez en Juan Heyns
- 19 – Tian Heyns en Neil Visser
Tydens die SA-Plattelandse toernooi is vyf van ons seuns gekies om die SA-Plattelandspan op verskeie plekke te gaan verteenwoordig.
- 14 – Dante Lategan en Sebastian Visser
- 16 – Daniël du Preez
- 19 – Tian Heyns en Neil Visser
Ons het ook aangesluit by ‘n buite-klub kompetisie in ons omgewing waar vier van ons seuns betrokke was, naamlik Tian Heyns, Neil Visser, Daniël du Preez en Juan Heyns. Die buite-klubs was Stilbaai A en B, Riversdal A en B, Swellendam A en B, Oakdale en Bonnievale.
Ongelukkig was daar vanjaar geen ligas vir die muurbal nie, maar ons het ‘n paar vriendskaplike wedstryde gehad. Dit sluit die volgende skole in: Hoërskool Outeniqua,- Framesby, -Strand en York High. Daar is ook van ons seuns wat hul “M & A Course” en hul “Coaching Level 1 course” voltooi het.