Ons vaardige, goed afgerigte tennisspelers hou steeds hul teenstanders in die hoeke en die bal laag oor die net. Verskeie oefengroepe oefen reg deur die wintermaande om Oakdale-tennis op ʼn uiters hoë platform te plaas. Spreiligte op drie van die ses tennisbane dra daartoe by dat oefensessies ook saans aangebied word.

2024

Vanjaar se tennis was propvol opwinding. Die tennisseisoen het vinnig afgeskop met die Interskole teen Boland Landbou. Die juniorspan het ongelukkig swaar getrek en het ‘n paar spelers as gevolg van beserings, baie gemis. Die seniorspan het uitstekende resultate behaal, deur agt van die twaalf wedstryde te wen, onder andere die eerste 8 spelers wat almal gewen het.

Op 9 en 10 Februarie 2024 het die o. 15-tennisspan aan die Boland Tennis-toernooi deelgeneem en uitstekend gekompeteer en waardevolle ervaring opgedoen. Die seuns het hulself uitstekend gedra en ware veggees gewys. Hulle het uiteindelik 6de uit 12 skole geëindig.

Op 15 – 19 Februarie 2024 het ons eerste sewe tennisspelers aan Paul Roos Gimnasium se gesogte Gerrie Berner tennistoernooi deelgeneem en ‘n 10de plek uit 12 skole behaal. Die seuns het besonderse goeie wedstryde gespeel en deurlopend uitstekende karakter gewys.

Op 21 – 24 Februarie 2024, het die Tjaart Vorster tennis-toernooi in Cradock plaasgevind en het die eerste sewe tennisspelers deelgeneem. Die toernooi was deur Marlow Landbou aangebied. Die seuns het uitstekend gevaar en het afgereken met al die skole waarteen hulle te staan gekom het. Hulle het die toernooi gewen met wenne oor Paul Roos en Pearson.

Op 2 Augustus 2024 het ons ‘n vriendskaplike wedstryd teen Grey Kollege gespeel en besonders goed gekompeteer. Twee leerders het wenne behaal en ander het net-net verloor.

Baie geluk aan Joshua Helmand (no. 1, o. 15-speler), Daniël Meyer, Mardo Wasserman en Conrad Heyns wat vir die Eden Junior Tennisspan gekies is.

Ons moet alle eer aan ons Hemelse Vader gee vir die gesondheid en talente wat ons sonder verdienste van Hom ontvang. Ons grootste doelwit was om die skool se waardes by die seuns in te skerp. Wanneer ons terugkyk en die seisoen hieraan meet,  kan ons met dankbaarheid sê dat dit ‘n baie suksesvolle seisoen was. Ons is ook baie dankbaar dat alle toere goed afgeloop het, dat ons veilig gereis het en dat ons veilig na Oakdale kon terugkeer.

Hiermee bedank ons graag mnr. Wimpie Helmand vir sy ongelooflike groot bydrae en betrokkenheid by Oakdale-tennis. Sy konstante motivering, afrigting, wysheid en tyd dra by tot Oakdale se sukses in tennis. Ons bedank ook ons skool vir die geleenthede wat geskep word en deurlopende ondersteuning.

Tennis 1ste 8 Interskole

Tennis Junior Interskole

Tennis Tjaard Vorster Toernooi

2023

Vanjaar se tennis was propvol opwinding. Die tennisseisoen is vinnig afgeskop met Interskole teen Boland Landbou. Die juniorspan het ongelukkig swaar getrek en het ‘n paar spelers as gevolg van beserings, baie gemis. Die seniorspan het uitstekende resultate gekry, deur slegs een van twaalf wedstryde af te staan.

Op 10 en 11 Februarie 2023 het die o. 15-tennisspan aan die Boland Tennis-toernooi deelgeneem en uitstekend gekompeteer en waardevolle ervaring opgedoen. Die seuns het hulself uitstekend gedra en ware veggees gewys.

Op 15-18 Februarie 2023 het ons eerste sewe tennisspelers aan Paul Roos Gimnasium se gesogte Gerrie Berner tennistoernooi deelgeneem en ‘n 9de plek uit 12 skole behaal. Die seuns het besonderse goeie wedstryde gespeel en het gesorg vir een van die beste uitslae wat Oakdale nóg in die baie sterk toernooi behaal het.

Vanaf  15-19 Februarie 2023, het die volgende sewe tennisspelers aan die Tjaart Vorster tennis-toernooi in Cradock deelgeneem, wat deur Marlow Landbou aangebied was. Die seuns het uitstekend gevaar en het ‘n 9de plek in die toernooi behaal, waar hul teen ander skole se eerste sewe spelers, moes meeding. ‘n Spesiale gelukwensing aan ‘n graad 8-leerder, Ruben Bezuidenhout, wat al sy wedstryde gewen het.

Ons moet alle eer aan ons Hemelse Vader gee vir die gesondheid en talente wat ons sonder verdienste van Hom ontvang. Ons is baie dankbaar dat alle toere goed gegaan het, ons veilig gereis het en dat ons veilig na Oakdale kon terugkeer. Ons wil baie graag mnr. Wimpie Helmand bedank vir sy ongelooflike groot bydrae en betrokkenheid tot Oakdale-tennis. Sy konstante motivering, afrigting, wysheid en tyd dra by tot Oakdale se sukses in tennis.