Ons vaardige, goed afgerigte tennisspelers hou steeds hul teenstanders in die hoeke en die bal laag oor die net. Verskeie oefengroepe oefen reg deur die wintermaande om Oakdale-tennis op ʼn uiters hoë platform te plaas. Spreiligte op drie van die ses tennisbane dra daartoe by dat oefensessies ook saans aangebied word.

2025

Vanjaar se tennis was propvol opwinding. Die tennisseisoen het vinnig met die grootste Interskole tot dusver teen Boland Landbou, afgeskop. Altesaam 32 spelers het deelgeneem. Die eerstespan het naelskraap met meer potte as Boland gewen. Die Interskole was ‘n reusesukses met elke kragmeting baie gelyk. Die eindtelling van wedstryde was gelykop met Oakdale en Boland wat elk 24 wedstryde gewen het.

Op 7 en 8 Februarie 2025 het die o. 15-tennisspan aan die Boland-tennistoernooi deelgeneem en uitstekend gekompeteer en waardevolle ervaring opgedoen. Die seuns het ware veggees getoon. Hulle het uiteindelik vyfde uit twaalf skole geëindig.

Op 12 – 15 Februarie 2025 het ons eerste sewe tennisspelers aan Paul Roos Gimnasium se gesogte Gerrie Berner-tennistoernooi deelgeneem en ‘n tiende plek uit twaalf skole behaal. Die seuns het besonderse goeie wedstryde gespeel en deurlopend uitstekende karakter getoon. Die hoogtepunte was wedstryde teen Grey-Kollege Bloemfontein, Hoër Jongenskool Paarl, Paul Roos Gimnasium en Afrikaanse Hoër Seunskool.

Op 19 – 23 Februarie 2025 het die Tjaart Vorster-tennistoernooi in Cradock plaasgevind waar die eerste sewe tennisspelers deelgeneem het. Die toernooi was deur Hoër Landbouskool Marlow aangebied. Die seuns het uitstekend gevaar en ‘n algehele vierde plek uit die 16 skole wat deelgeneem het behaal.

Op 14 Maart 2025 het ons ‘n vriendskaplike wedstryd teen Grey-Kollege Bloemfontein gespeel en besonders goed gekompeteer. Die lugdruk was ‘n nuwe uitdaging en leerders het waardevolle ervaring opgedoen.

Ons het ook ‘n vol liga beleef met agt wedstryde wat teen verskillende skole in die Eden-distrik, gespeel was. ‘n Groot voorreg om soveel blootstelling aan die leerders te kon bied.
Gedurende die rugby-seisoen is vriendskaplike wedstryde teen Hoërskool Framesby, – Swellendam, Swellendam Tennisklub, Riversdal Tennisklub en Great Tennis Akademie gespeel om leerders vir toernooie voor te berei.

Baie geluk aan Ruben Bezuidenhout, Joshua Helmand, Janu Botma, Damian van der Sluis en Daniël Meyer wat vir die Eden Junior Tennisspan gekies is.

Ons neem met groot hartseer afskeid van ons geliefde spanmaat Ruben Bezuidenhout wat tragies tydens die Julie-vakansie verongeluk het. Hy los ‘n groot leemte in ons harte, skool en tennisspan. Ons besef net opnuut weer die belangrikheid van ons verhouding met die Here en Sy vrede in ons lewens.

Ons moet alle eer aan ons Hemelse Vader gee vir die gesondheid en talente wat ons sonder verdienste van Hom ontvang. Ons grootste doelwit was om die skool se waardes by die seuns in te skerp. Wanneer ons terugkyk en die seisoen hieraan meet, kan ons met dankbaarheid sê dat dit ‘n baie suksesvolle seisoen was. Ons is ook baie dankbaar dat alle toere goed afgeloop het en dat ons veilig gereis het.

Hiermee bedank ons graag mnr. Wimpie Helmand vir sy ongelooflike groot bydrae en betrokkenheid by Oakdale-tennis. Sy konstante motivering, afrigting, wysheid en tyd dra by tot Oakdale se sukses in tennis.

2024

Vanjaar se tennis was propvol opwinding. Die tennisseisoen het vinnig afgeskop met die Interskole teen Boland Landbou. Die juniorspan het ongelukkig swaar getrek en het ‘n paar spelers as gevolg van beserings, baie gemis. Die seniorspan het uitstekende resultate behaal, deur agt van die twaalf wedstryde te wen, onder andere die eerste 8 spelers wat almal gewen het.

Op 9 en 10 Februarie 2024 het die o. 15-tennisspan aan die Boland Tennis-toernooi deelgeneem en uitstekend gekompeteer en waardevolle ervaring opgedoen. Die seuns het hulself uitstekend gedra en ware veggees gewys. Hulle het uiteindelik 6de uit 12 skole geëindig.

Op 15 – 19 Februarie 2024 het ons eerste sewe tennisspelers aan Paul Roos Gimnasium se gesogte Gerrie Berner tennistoernooi deelgeneem en ‘n 10de plek uit 12 skole behaal. Die seuns het besonderse goeie wedstryde gespeel en deurlopend uitstekende karakter gewys.

Op 21 – 24 Februarie 2024, het die Tjaart Vorster tennis-toernooi in Cradock plaasgevind en het die eerste sewe tennisspelers deelgeneem. Die toernooi was deur Marlow Landbou aangebied. Die seuns het uitstekend gevaar en het afgereken met al die skole waarteen hulle te staan gekom het. Hulle het die toernooi gewen met wenne oor Paul Roos en Pearson.

Op 2 Augustus 2024 het ons ‘n vriendskaplike wedstryd teen Grey Kollege gespeel en besonders goed gekompeteer. Twee leerders het wenne behaal en ander het net-net verloor.

Baie geluk aan Joshua Helmand (no. 1, o. 15-speler), Daniël Meyer, Mardo Wasserman en Conrad Heyns wat vir die Eden Junior Tennisspan gekies is.

Ons moet alle eer aan ons Hemelse Vader gee vir die gesondheid en talente wat ons sonder verdienste van Hom ontvang. Ons grootste doelwit was om die skool se waardes by die seuns in te skerp. Wanneer ons terugkyk en die seisoen hieraan meet,  kan ons met dankbaarheid sê dat dit ‘n baie suksesvolle seisoen was. Ons is ook baie dankbaar dat alle toere goed afgeloop het, dat ons veilig gereis het en dat ons veilig na Oakdale kon terugkeer.

Hiermee bedank ons graag mnr. Wimpie Helmand vir sy ongelooflike groot bydrae en betrokkenheid by Oakdale-tennis. Sy konstante motivering, afrigting, wysheid en tyd dra by tot Oakdale se sukses in tennis. Ons bedank ook ons skool vir die geleenthede wat geskep word en deurlopende ondersteuning.

Tennis 1ste 8 Interskole

Tennis Junior Interskole

Tennis Tjaard Vorster Toernooi